Aan die oorkant

Kasha Potgieter

Tafelberg 2004
Die plaas is 'n plek van konflik, weet ons uit die nuusberigte van grondeise en plaasmoorde. Ook in die Afrikaanse letterkunde is dit 'n terrein van stryd.

In die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme is die plaasruimte geïdealiseer en in opposisie geplaas teenoor die stad, plek van boosheid en verval. Veral sedert die jare tagtig, egter, is die plaasroman indringender besoek deur skrywers soos Eben Venter en Etienne van Heerden.

Die waardes onderliggend aan die ouer plaasromans is gekritiseer deur 'n jongergeslag wat, paradoksaal, terselfdertyd hul verbondenheid aan die grond getoon het. Dink aan romans soos Foxtrot van die Vleiseters en Toorberg: die grond was deurweek met skuld, daar is jag gemaak op die politieke implikasies van tradisie, angs het op die werf rondgesluip. Dié genre bly belangrik in ons letterkunde - later vanjaar, byvoorbeeld, verskyn Marlene van Niekerk se langverwagte plaasroman Agaat.

Dit is teen dié agtergrond dat Kasha Potgieter haar debuutroman kom neersit, en 'n mens kan dit nie werklik los lees van die lang tradisie nie. Die plaas is die ruimte vir die roman se intrige, en soos van ouds speel die natuur 'n belangrike rol. Dit is 'n storm wat die hoofkarakter, Lalie, en haar man, Willie, se lewe onherroeplik verander het (bl. 23). In 'n parallel met die grootste vrees van die boere in die ou plaasromans, veroorsaak die storm dat Lalie en haar man so te sê "uitboer". Hy word gedwing om kontrakwerk te gaan doen vir Eskom, maar Lalie bly op die plaas agter om te boer. Sy ontmoet 'n veel jonger man, Johan, wat aan die oorkant van die rivier boer, en knoop met hom 'n verhouding aan. Die verhouding en die konfrontasie met haarself wat dit vir Lalie meebring, is die kern van die verhaal.

Bostaande is 'n uittreksel van 'n resensie deur Herman Wasserman in Die Burger van 21 Junie 2004

Aan_die_oorkant-1114 1.0.4