Skuinslig

'n Dagboek Maart 1996 - April 1997

Hennie Aucamp

Lapa Uitgewers, Pretoria 2003
"Ek voel asof ek al twee lewens binne een leeftyd geieef het; en sekerlik het die byhou van dagboeke baie te maak met my sensasie van verdubbelde en verdigte tyd."

In opvolging van Gekaapte tyd (1996) en Allersiele (1997) voltooi Skuinslig Hennie Aucamp se dagboek-drieluik.

Volgens die skrywer het hy sedert sy uittrede 'n Europese flâneur geword: "Ek het die tyd en inkomste om ure op straat te drentel en enkele brokstukke huis toe te bring - dinge wat vir my van belang is, en nie noodwendig vir ander nie: 'n indruk, 'n woord, 'n insig, 'n tweedehandse boek."

Hierdie egodokument dek die tydperk Maart 1996 tot April 1997, en soos teen hierdie tyd van Aucamp verwag kan word, is dit 'n boek ryk aan verwysings, "portretstudies" - van straatkarakters tot vooraanstaande persoonlikhede - en essayistiese en aforistiese passasies. Ook die skrywer se kunsbeskouing word geselsenderwys en boeiend aangebied, en sy landskap- en natuurbeskouings getuig van 'n besonder skerp waarnemingsvermoë.

Van al sy genres is die dagboek die een waarna Aucamp die graagste terugkeer. En as die hou van 'n dagboek 'n vorm van verslawing is, soos Anaïs Nin beweer, is dit in sy geval 'n positiewe verslawing - nie 'n verslawing aan die dagboek op sigself nie, maar aan die lewe; 'n verslawing aan die wondere, die mistiek, die kwellings en die banaliteite van die ding wat ons lewe noem.

Oliverfskildery op omslag deur Paul Emslie: Lüderitz (1996) ('n fragment) Foto deur Philip de Vos

Skuinslig-953 1.0.4