|
|
| vuurklip Afrikaans Terug na Gedigte Vuurklip Google | Sestien gedigte uit die Middelspel gedeelte van die bundel Patzers (Human & Rousseau 1997) Tydsprong (We) are like sand in the hourglass which can be time only in falling. ANA BLANDIANA En ons val uit Gods hand deur blou stiltes klipdimensies van ruimte moulose wolke van vere gestroop ten aarde met ons vlerke na onder gebuig soos die arms van 'n gebreekte kruis val ons tyd binne sand deur die uurglas se dunste knak as mens nie vanweë opset of moedswil maar oorlat ons moeg is né Die byevanger Ein Mann wohnt im Haus der spielt met den Schlangen der schreibt der schreibt wenn es dunkelt nach Deutschland... PAUL CELAN (Uit: TODESFUGE) Swart stroop drink ons saans drink ons smôrens drink ons snags drink en drink ons die bye grawe deur die lug 'n korf in die lug waar ruimte genoegsaam is strek die man sy arm uit 'n slang skilfer los skryf rookspirale oor stede mense wanneer die lig gedoof word die man salueer die goue stroop swart drink ons die stroop uit die korf die goue gloed van bye grawe deur die lug die man staan voor die skare in sy hand swerm boste blomme in die net van woorde word dit donker word dit nag die korf glim soos sterre in die swart stroop en hy sing en ons dans Om en om die opening grawe dieper roep die man vanagter sy kort snor sy oë is blou onder die narrepet hy dirigeer die saluut soeter die musiek van die môre in die sooie van die korf drink drink beveel hy slange kriewel uit skoorstene oor die dansende werkers die bye kleef swart om die openinge in die lug die korf woed onrustig vlieë dwarrel neer klou aan wonde as konfetti vir die vliegengod se gestroopte bruilofsfees Arbeit macht frei! Lady Lazarus I have done it again. SYLVIA PLATH Stil 'n leeftyd lank lê ek hier in stomende donker met aandenkings van my verblyf in kaste weggebêre Die bed metaalklamp liefdelose arms 'n leeftyd lank ek het dit weer gedoen 'n kat het immers Nege lewens daar bly nog ses oor hulle kerm om my staan met brandoë elke beweging en afloer Ek bang hulle nie daar is geen wind in die bome ek soek hul kloue in my lyf die takke skeur Deur die vensters leeg in my oë slapnek soos die mossie in hul kake ek seën die bloed o, om te sterf Is 'n kuns soos geen ander- En niemand doen dit beter as jy nie flikflooi die dokter langs my bed Ek hoes in die sakdoek hoes in die engel se bebloede kleed breek die kapsule Ek lief hom my minnaar in wit jas maar durf nie by hom bly. Los my die pyn pleit ek liefies en kus Teer die hand die gebreekte engel onder my tong koorsig vlam die wind op- Ek kom, daddy o, ek kom, maak oop die deur, maak oop jou arms, ek kom met my lyf 'n nazi deurskynlamp My voet 'n papiergewig my tande vol goud vir jou byekorf- Moet my nie weer wegstuur nie Ek kom na hulle wat die dood se wurms van my lyf pik, ek kom. Jou meisiekind sal ek wees- Jou lieflingkind met heuning in haar mond Die wind brand my tot as, die wind smelt my hulle krap deur die flenters as, hulle soek na jou Hulle weet ek sal jou nie weer opgee- Herr God, Herr Lucifer Beware Beware. Out of ash I rise with my red hair And I eat men like air. Helter Skelter Ek is 'n positiewe mag, ek kollekteer negatiewes ek is die man met 'n duisend gesigte ek is niemand, ek is almal, ek gooi messe na teikens teen die muur die meisies wydsbeen gepen- Ek laat my met leerbande op 'n houtkruis vasmaak, hulle kniel voor my, soen my voete hulle smeer die bloed van 'n kat oor hulle borste drink drink bekers vol ek is die god van fornikasie ek inisieer penetreer ritualiseer drie ure op 'n slag die ou uit-en-in tot die identiteit disintegreer. Ek is die seun van die mens ek is charlie manson ek gebied vreugde is 'n warm geweer ek gooi LSD in die drinkwater van ver is ek beeldskoon van naby verrimpel aan die kruis is christus, in die woestyn die preriewolf dit is dieselfde, man, dieselfde- En dit is goed so. My dissipels skeer hulle hare af voor my brand hulle dit ek asem die walm in ek is hoog hoër hoogste ek is godmanseun- Gaan sê ek, gaan en ruk fetusse uit die baarmoeders van swanger vroue gaan en bring my helter skelter bring my bloed om te drink brood om te eet gaan: Ek is die man met 'n duisend gesigte ek is charlie manson die seun van die mens- godmanseun Gloria Hy het vir iemand anders gesterf nie vir my, nog minder vir my sondes- My sondes behoort aan my alleen soos die meisie onder vloerplanke weggelê moenie 'n fout maak nie ek is skraal en bleek ek lyk onskuldig maar ek is 'n moordwapen stomp dog effektief my oë is blou my hande teer maar bebloed ek smeer strepe oor my gesig teen die kerk se mure hy het vir iemand anders se sondes gesterf nie vir myne ek drink bloed ek spalk vrees wydsbeen oor die altaar ek kerf hakekruise op die tonge van diegene wat ek liefhet tot in die derde geslag ek bring die vreugde van vaders aan hul dogters ek is die man langs jou op die bus, die een wat jou 'n sitplek aanbied wat jou bedien in die kafee wat jou hand 'n drukkie gee langs die geopende graf wat 'n grap ek glo nie in water wat wyn word nie ek glo nie in die vergifnis van sonde nie ek glo nie in die opstanding van die vlees nie ek drink bloed- Ek is die nie in niemand die een vir wie se sondes Hy nie durf sterf het nie: Die een wat jou kwansuis nie traak nie Honger Soos hulle wat honger is het ek na jou gekom gevat wat ek wil soos hulle dikwels doen jou op die vloer vas gedruk jou bene mikstok gemaak jou klere oop geruk knope laat spring deur die lug o God die bloed spoor oor my oor jou gekrapte merke die skewe lip opgeswel die sny teen jou voor kop Gevat want ek was honger bang en kwaad soos hulle dikwels is Poncelet (Matthew Poncelet in Dead Man Walking) Jy vertel my van WC Fields wat op sy sterfbed sy Bybel gelees het op soek na 'n skuiwergat jy vra my of ek 'n Bybel het Stories uit my kinderdae onthou ek wel my ma slapenstyd met haar Bybel op haar skoot haar vinger wat oor die bladsye kruip Ek onthou die dun papier wat sommer poef! wegfrommel onder my lighter Ek onthou die skadu's wat die kers teen die muur worstel gedaantes wat oor haar skouer loer Soms engele, maar nie te dikwels goddank Ek onthou haar stem die ritme waarmee sy lees altyd dieselfde soos 'n rivier wat verbystroom onstuitbaar verder, al hoe verder weg tot die woorde onhoorbaar druis deur die slaap wat sy met soveel sorg om my vou Jy vra my om my Bybel te lees, suster Helen: Vergewe my, maar ek kan nie. Dit laat my vandag nog slaap raak En in die slaap wag die dood. Wakker bly is my skuiwergat. Sister Morphine This is my last shot of you. PATTI SMITH Breek weg skreeu ten hemele, nee- Vloek ten hemele ek weet waar jy is ek ken jou drome jou woorde goeienag goeienag ek sien jou van ver ek sien jou skreeu pyn is 'n skouer 'n dankbare geslobber teen die skouer swart is die doek blink die rivier die mantel van water kom na my kom ek ken jou ek weet waar jy was ek hoor jou rooi in die naald op sug voor die dompelaar my helder stoot na jou dit is so bestem teen die wind se skouer galop galop weg met my kom breek weg skreeu ten hemele vloek ten hemele jy is myne ek het jou gedoop met swart water van die rivier jou gestroop van mooi woorde mooi frases tyd is 'n mite my lief pyn is my silhoeët dit is ek by jou, slaap nou slaap warm slaap soet dit is ek die landskap blink in jou opgelos ek wat teer jou drome masseer ek wat blomme bring die aarde smelt weg Marianne later i took some sleeping pills, i needed to lose... MARIANNE FAITHFUL Getrou aan my naam nie met die verlede hoereer wel dikwels met die toekoms fornikeer die verhoog se splinters geliefkoos met my vel sag soos fluister in die beddens van begeerte my bene oopgemaak die son die breek deur mure kom my geliefde, my bebloede minnaar, kom ek is gereed ek is gereed het ek gekreun die mikrofoon begeer die fallus my lippe sluit honger om jou om die gefluit die gejil die skare getrou aan my naam al die gisters in 'n glas konjak weggewas wit soos more se sneeu voor jou gestaan my liefsteling my gekweste hartlam ek is gereed hier op die verhoog tussen die splinters jou liefkosings in bloedhale oor my lyf geskryf kom kom penetreer my breek my oop die musiek is groen en wit die musiek is pers en wit my sluier jou bruid wil ek wees jou handlanger jou metgesel die teiken vir jou vuis vir jou kus kom my judas wis my uit met al jou môres 'n laken van sneeu oor my uitgelê. kom, wis my uit Jimi Y'all up on the hill, don't think you can fly, because you can't! JIMI HENDRIX Kyk, die man met die groot voël onder sy arm vasgeknyp, kyk die man met die bont hemp en die omgekeerde vlerk- Die man breek die voël se bek oop, die man pluk die trillende tong uit met sy tande en die voël skreeu weg deur takke vol in die vlam: Kyk, kyk- Die man op die draagbaar het 'n voëlgeraamte in sy keel, hy verstik: Draai hom om, draai om- Hy vlieg weg- Swart voor swarter son- weg. Kurt Kom nes jy is Jy's welkom ongekam met jou vel gif deurdrenk as eerste blom in die lente Stupid dog aansteeklik. Kom, ek wag bebloed wat dit ook al mag beteken nes jy is O, om my vinger te mag steek in die gat van die leuen. 'n Geweer het jy gesweer, het jy nie Maar die system het jou glo 'n gat in die kop gepraat, dollar weivelde groen beloof Kom nes jy is- Stupid & aansteeklik: I'm worse at what I do best and for this I feel blessed! Nevermaaind John-o Verbeel jou die tyd is nou, soos 'n koeël uit die verte het die dag op jou afgekom- As dubbele fantasie in stilspoed gevries raampie vir raampie op jou afgesnel. Van ver af die lui rotasie, die groewe oor die doodkop geëts agter jou oor verstar Bon Voyage When hope is gone, the ultimate sanity is to grasp at straws. RAYMOND CARVER In wese is poësie onfatsoenlik, dit bring dinge voorheen obskuur na vore: Ons knip ons oë en 'n tier spring sigbaar met slu sy stert lispelend voor ons in die oopte. Die woorde het jy by Milosz oorgeneem en geglo, dag na dag ingedrink soos 'n dosis medisyne, want woorde is daadkrag: Dit berei die siel voor op onafwendbare vertedering, sê jy. So was dit ook in die laaste dae- Urelank het jy en Tess jul reis na Chekov se geboorteland beplan: Tot jy kortasem terugsak teen die kussing in roggelende opwinding. En Tess wou ten laaste maal troos deur te fluister dat sy steeds sou gaan namens julle albei, 'n roos op Achmatova se graf sou plaas- Vir jou. Maar jy het geweet jy sou lank voor haar daar wees. Jy reis ligter, jy reis oombliklik Bukowski I Ek sien jou ge-halfjack by die resies baan, lekker geswaai stotter jy by die tattersalls verby- Alles verloor weer eens 'n slegte dag die volksie se clutchplaat gly al die pad losieshuis toe Nog later lê jy deurtrek met horries op die bed- Jane is by jou, gedienstig spons sy jou af. Miere kriewel deur jou are vreet jou hol: "I'm burning in water, I'm drowning in flame!" prewel jy skielik liries Van inspirasie en jy luister na 'n goddelike Beethoven-konsert terwyl Jane agter die toe deur 'n ekstra geldjie los kreun En agterna hou jy 'n kortvinger gesels na my uit soos 'n joint besteblaar- Ek dank jou, Charles Bukowski. Bukowski II In this room the hours of love still make shadows. When you left you took almost everything. I kneel in the nights before tigers that will not let me be. Hemels, Charles- Vir hierdie reëls vergewe ek jou baie: Het jy dalk vermoed al die kere wat jy jou geliefde in die nag uitgestuur het om poësie huis toe te bring Dat jy eers na haar heengaan jou beste werk sou lewer, dat jy met die ligte somersrok wat eens om haar geflikflooi het Straat af sou loop op soek na 'n god, iemand om haar terug te gee aan jou? Jy weet tog- Orpheus sing op sy dodelikste Vanagter die hel se traliewerk Dostojewski (Na J.M. Coetzee se boek The Master of Petersburg) Jou seun Pavel val iewers kletterkoud deur die honger nag van Petersburg: Gestamp of gespring- Die oorsaak is nie duidelik nie Jy dwaal deur die strate snags op soek na Pavel se demone- Jy slaap in sy bed, drink uit bekers wat vroeër in sy hand gehou is Oplaas bevind jy sy vlerke het met die nag verstrengel, die koue het die vere loodswaar teen sy lyf laat klamp En hy het geval- Die yskoue demoon in die spieël herken jy. Dit is jy en jy skommel die kaarte speel nog 'n hand |
|   | Ek verwelkom kommentaar - skryf hierheen: |
Host: JCW