|
|
| vuurklip Afrikaans Terug na Gedigte Vuurklip Google | Olga Kirsch uit Nou spreek ek weer bekendes aan, 'n keur uit haar werk Vir my was jy die bron van alle krag Een somerdag aan tafel skuif die mou hoog oor jou sonbruin vel en ek aanskou jou ronde boarm, bleek en bloot en sag en ek begryp hoe listig is die dood en trane het gemengel met my brood. Die volgende paar gedigte is uit Geil Gebied (Human en Rousseau 1976 - eerste uitgawe) Nou spreek ek weer bekendes aan: Sluit ek my oë, sien ek weer die oë vriendelik-spottend, teer wat my herken; my stem nie meer geluid wat in my hoof vergaan, uitroepe in 'n klankdig sel maar soos van een wat stil vertel: jy was nie tuis toe ek jou bel. My lewe sal gesplete bly: Groen stamme, as die byl hul kap kerndiep, sal nooit weer heelheid kry. Maar aan die staallem klewe sap. Die nag was droom op somber droom. Vroeg-oggend staan ek, swaar en loom van liggaam, op en klee my aan. Ook die verdriet het opgestaan. Saam is ons stad toe. Ongeërg geleun teen winkelvensters verg hy streng verdubbeling van die leed vir elke oomblik van vergeet. Hy het die ete opgedis, hy't reels en bladsye uitgewis. Dalk sal hy altyd by my wees - 'n stram geraamte in die vlees. 'n Trein se huilstem protesteer, die nanag ruk spitshaar orent. Waar swewe hy, gevreesde heer van al wat leef, waar stryk hy neer, wag hy in duister hinderlaag? Die donker is 'n hart wat jaag. Die luik se ribbes steek geprent skuins oor die bed se voetenent. |
|   | Ek verwelkom kommentaar - skryf hierheen: |
Host: JCW